In Kaapland Films se nuutste projek, Mooirivier, wat op 6 Februarie in teaters begin draai het, vertolk jy en Bennie Fourie die rolle van Spys en Arnoldus, twee studente wat in ‘n effense vete verwikkel is. Wat het jou tot die karakter van Arnoldus aangetrek?

Ek dink die feit dat hy so lukraak en opwindend is. Om deel te wees van die comic relief in films is altyd lekker, jy het nogal baie vryheid en almal is [ook] oop vir jou voorstelle. Om teenoor Bennie te speel was ook ongelooflik lekker omdat ons goeie vriende is. Ons ken mekaar se komedie baie goed.

Jy is self betrokke by die regie en redigering van verskeie kunstenaars se musiekvideo’s, insluitend Moses Metro Man se enkelsnit wat oorspronklik vir Mooirivier geskryf is. Was hierdie ondervinding enigsins behulpsaam tydens die skiet van die film?

Ja, [ons] wou met die video net ietsie van

 [Potchefstroom] vertel en wys. [Ons] het maar op die locations gaan [skiet] waar die film ook afspeel. Musiek in films is baie belangrik en ek is bly om te sien [dat] meer films musiekvideo’s gebruik om [hulself] te bemark.

Mooirivier se vervaardigers, Tim Theron, Jorrie van der Walt en Cobus van den Bergh, het genoem dat die film sal afwyk van tipiese romantiese komedies. Wat kan kykers dus verwag?

[Ek] dink nie [die film] het jou tipiese romantiese komedie-resep nie. [Daar] is verskillende temas rondom liefde in die film en nie almal [van hulle] het te doen met romantiese liefde nie. Ek dink kykers gaan kom met ‘n persepsie dat dit maar net nog ‘n romantiese komediefilm is, maar die ses storielyne is almal baie divers en mens gaan iets anders by elkeen kan [saamvat].

Dit is nie die eerste keer dat jy by ‘n Kaapland Films projek betrokke is as akteur nie. Sou jy sê dat akteur-wees vir jou ‘n natuurlike aanleg is, al kom jy eintlik uit die musiekwêreld uit?

Ja, [as] dit nie vir Tim, Cobus en Jorrie was nie sou ek nie hierdie wonderlike geleenthede gehad het nie. Hulle het in my geglo en dit is [nie] iets wat elke dag gebeur in ons bedryf nie. Ek is eintlik baie meer gemaklik voor die kamera as wat ek agter ‘n mikrofoon is, maar musiek is so ‘n groot deel van my hart ook. Deesdae spandeer ek meer tyd voor die kamera, so dinge gaan maar in ‘n natuurlike rigting, maar ek sal nooit ophou musiek skryf nie.

 

Image provided.

Website | view posts