MARIÉ VAN WYK

 

Dit is dié tyd van die jaar wanneer alles net te veel raak. Jou laaste take moet nog ingegee word, jy begin jou toetspunte terug kry, dit lyk nie goed nie en die eksamen lê om die draai. Jy waardeer die week wat die universiteit vir jou af gegee het om Innibos en Aardklop toe te gaan, maar kom ons wees eerlik, dis nie asof jy gerus het nie.

In die warboel van alles wat moet gebeur, stap jy ingedagte op die kampus rond en skielik sien jy die Jakarandas blom. Dit het so vinnig gekom die jaar, soos elke jaar vir gesoute Pretorianers. Dis mooier as wat jy onthou en dit verbaas jou elke jaar.

Pretoria, die Jakaranda stad, toegevou in sy pers kombers beteken net een ding vir die Tukkies studente: eksamen. Die legende loop al jare deur die Universiteit, as ? blommetjie op jou kop val, sal jy jou eksamen slaag, en twee beteken onderskeidings. Die studente sweer daarby. Hulle gaan tot onverklaarbare lengtes om die gelukbringerblommetjie as kroon te dra, soos om in Jakarandabome te klim, of om ompaaie na hul klasse te neem sodat hulle onderdeur die bome kan beweeg, of om vir ure onder een te gaan sit in die hoop dat een op hul koppe sal val.

Tukkies is egter nie die enigste Universiteit wat bygelowe oor dié boom het nie. Die stad van Ipswich in Australië het ? besondere hoë aantal Jakarandabome, veral op die kampus van die Universiteit van Queensland. Die studente van Queensland glo dat jy nie mag begin leer vir die eksamens tot al die Jakaranda blommetjies geval het nie. By die Universiteit van Sydney glo hulle weer dat teen die tyd wat die Jakarandas in die binneplein van hul kampus begin blom, is dit te laat om te begin leer vir die eksamen. Daarom het dié boom in Australië die bynaam “eksamenboom” of “pers paniek” gekry. Anders as die Tukkies, glo die studente van Queensland dat as daar ? blommetjie op jou kop val gedurende die eksamen, sal jy ? vak druip. Volgens hulle kan dit verhoed word deur ? ander blommetjie te vang voor dit op die grond val.   

James Clarke het in die 1880s die Jakarandaboomsaad van Suid- en Sentraal-Amerika ingevoer na Suid-Afrika en die eerste twee Jakaranda bome is in 1888 by ? skool in Arcadia geplant. Die bome is kort daarna in die straat wat vandag as Bosmanstraat bekend is, maar toe Kochstraat was, geplant en dit is waar die wêreldwye status van Pretoria as Jakarandastad begin het. Die bome word oor die algemeen tussen vyf en vyftien meter hoog en dit bevat ook medisinale waardes wat help teen Bacillus, Staphylococcus en Escherichia coli.

? Paar jaar gelede was daar baie kontroversie in die media toe die regering dit onwettig verklaar het om Jakarandabome in die nuwe voorstede van Pretoria aan te plant. Die boom is as ? indringerplant geklassifiseer, meestal omdat hulle te veel water benodig, en mag net met spesiale toestemming aangeplant word. Volgens die wet mag die huidige Jakarandabome nie eers vervang word as hulle vrek of vrot nie. Vir baie Pretorianers is dit ? baie sensitiewe onderwerp. Die Jakarandas het so deel geword van die identiteit van die stad dat dit deur meeste mense as inheems beskou word. Hierdie feit word bewys deur die aantal gedigte en liedjies wat deur die dekades geskryf is, wat na Pretoria verwys as die Jakarandastad. Dit sluit kunstenaars van Valiant Swart tot Heinz Winkler in. Beteken dit dat Pretoria later nie meer die status van die Jakarandastad sal verdien nie?

Die ironie is, dat al is Jakarandas nie inheemse bome nie, is geen van die bekendste stede in Suid-Afrika na inheemse plante vernoem nie. Bloemfontein is die Stad van Rose en Stellenbosch die Stad van Eike, albei uitheemse plante. Moet die jakarandas, die rose en die eike dan vervang word met inheemse plante?

Onbeantwoord of nie, in C. Louis Leipoldt se gedig “Oktobermaand” skryf hy: “Dit is die maand Oktober! Die mooiste, mooiste maand!” Nêrens is dit so waar soos in Pretoria nie, wanneer die stad ? pers-blou baadjie aantrek en ons strate toegooi onder ? glibberige pers kombers. Dit bly die hart van ons stad.

Website | view posts