MARIÉ VAN WYK

 Was Breyten Breytenbach in Maart 2010 reg gewees, toe hy gesê het dat Afrikaans besig is om uit te sterf? As ? mens kyk na die statistieke oor dié taal by die Universiteit van Pretoria wat Afriforum vandeesmaand op die graffitimuur geverf het, blyk dit nie onmoontlik nie. Tog, vir een of ander rede, weerspieël hierdie drastiese vermindering van Afrikaans aan universiteite nie die aantal mense wat jaarliks in hul hordes by groot Afrikaanse kunstefeeste, soos die KKNK en Aardklop, opdaag nie. Dit het blykbaar ook nie ? indruk op die gewildheid van  Afrikaanse boeke of musiek nie. Maar is dit genoeg vir ons taal om te oorleef? Of ? beter vraag: is die Afrikaans wat jy vandag in boeke lees, in musiek of oor MK hoor, nog Afrikaans?

Dis moeilik om presies te bepaal wanneer die vermenging van Engelse woorde in die Afrikaanse taal begin het, omdat ons taal ontstaan het uit ? vermenging van verskillende tale. Met ander woorde, daar was nog altyd ? vorm van anglisisme in die taal. Maar die opmerklike gebruik van Engelse woorde in die Afrikaanse taal het eers in die tagtigerjare ? naam gekry toe ? klomp jong Afrikaanssprekende stedelinge ? nuwe Afrikaanse variant tot stand gebring het, naamlik Suburbia-Afrikaans. André Letoit (Koos Kombuis) en vele ander kunstenaars van dié tydperk, het in hierdie variant van Afrikaanse geskryf  en gedig. Van ons land se voorste taalkundiges het sê dat Suburbia-Afrikaans vandag as ? gevestigde variant gesien word.

Die Julie/Augustus 2010 uitgawe van DE KAT bevat ? berig deur Ilse Salzwedel wat handel oor die nuwe “zef” musiekbeweging wat gelei word deur kunstenaars soos Jack Parow en Die Antwoord. In hierdie berig vra Sophia Kapp, ? akademikus van die Noord-Wes Universiteit, die volgende vraag: “Is dit nie beter dat Jack Parow (en tot ? mindere mate Die Antwoord) ? nuwe generasie laat dink Afrikaans is cool, as wat dit in die ivoortorings van die HAT en die Taalmonument gelos word nie?” In dieselfde berig antwoord Bolandklong die vraag deur te sê: “Afrikaans as ? taal is hier om te bly en mense soos Die Antwoord bied ? nuwe manier vir ons gemeenskap se vryheidsvegters om hul opinies uit te druk.” Maar die vraag is, as elke tweede woord Engels en elke derde woord ? vloekwoord is, selfs al dink mense dis cool, kan ? mens dit nog Afrikaans noem? Is al wat van Afrikaans oorbly ? leë dop van voorsetsels en lidwoorde?

Perdeby hetLeti Klyen, ‘n dosent in kreatiewe skryfkuns aan die Departament Afrikaans by die Universiteit van Pretoria gevra waarom subkulture en/of kunstenaars, (bv. Jack Parow, Die Antwoord en vroeër jare Koos Kombuis) so ‘n groot invloed op die taalgebruik van Afrikaanssprekendes het? Haar antwoord was as volg: “Ek is nie 100% oortuig dat kunstenaars so ‘n groot invloed op Afrikaanse taalgebruik kan hê nie … Sou ons byvoorbeeld dieselfde voel oor “rap” of “reggae” of “metal” of “pop” of ander vorme van musiek, en kan vra … hoe beïnvloed dit luisteraars se taalgebruik? Kan ons vra waar die meeste vloekwoorde nou eintlik teenwoordig is, op TV, in films, of in kontemporêre musiek of Jack Parow se nuwe CD?”

Dink sy hierdie kunstenaars veroorsaak dat mense dink die taal is “cool”, of is dit besig om die taal te verswak? Haar antwoord: “Ek is iemand wat glo in diversiteit en ek het ‘n leuse: ‘I am for the small guy’. Ek dink dus nie daar is net twee moontlikhede nie. Tussen daai twee opsies wat jy stel, is ‘n magdom ander. Hoe meer moontlikhede daar is, hoe groter is my keuse … As ek nie lus voel om Jack Parow in my Uno aan te sit en in ? radio op wiele klas toe te ry nie, hoef ek nie … daar is altyd ook klassieke musiek, Jurie Els, alles tussen Slipknot en Klipkop, of Titanic se sound trackwaarmee ek die dak kan lig.”

Taal is nie konstant nie, dit verander en groei en ontwikkel, met verskeie invloede.  Maar of die toekoms van Afrikaans in goeie hande is, gaan ons moet wag om te sien.

Wat dink jy?

Website | view posts